KANSA Shavathon beveg steeds kanker

English media release

1 February 2021 – 2021 beloof om groot opwinding te lewer soos die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) 90 jaar van dienslewering vier. Vir die eerste keer vind Shavathon-geleenthede van 27 Februarie tot 27 Maart 2021 (verleng tot en met Mei 2021) plaas om te verseker dat die nodige COVID-19 veiligheidsmaatreëls in plek is.

Maria Scholtz, KANSA se Hoof van Volhoubaarheid, brei uit, “Ons het besluit om dinge vanjaar ’n bietjie anders te doen. Gewoonlik het ons jaarliks ’n naweek aan die einde van Februarie waar Shavathon-geleenthede landwyd in winkelsentrums plaasvind. Die week daarna hou gashere en -vroue geleenthede by werksplekke en skole. Ons hou egter die veiligheid van die publiek in gedagte en moet seker maak dat ons aan veiligheidsprotokolle voldoen. Ons beoog om verskeie kleiner en beheerde Shavathon-geleenthede te hê vanaf Saterdag, 27 Februarie tot 27 Maart 2021. Verder is kontantlose opsies soos Snapscan, Zapper en MTN MoMo Wallet beskikbaar. Aanlyn donasies kan ook via cansa.org.za gemaak word met die ‘Bail Out’-fooi. Verder kan ondersteuners na die gids op die Shavathon-webwerf kyk vir besonderhede.”

KANSA Shavathon-geleenthede sal vanjaar op innoverende en kreatiewe maniere deur die gashere en -vroue aangebied word – met ’n ‘Deurry’, ‘Shavathon-in-’n-boks’ en virtuele Shavathon-opsies om te verseker dat almal steeds aan hierdie inspirerende fondsinsamelings-veldtogte kan deelneem. Ons moedig gashere en -vroue aan om 9 of 19 ander persone of instansies uit te daag om ’n Shavathon-geleentheid ter ere van KANSA se 90ste herdenking te reël.

“Die tema vir KANSA se 2021-Shavathon is ‘Kleure praat harder as woorde’ – ons sien steeds na kankerpasiënte om ten spyte van COVID-19 en ons nooi die publiek uit om te wys dat hulle ook omgee deur deel te neem of donasies te maak om genoeg fondse in te samel sodat ons hiermee kan voortgaan. Tydens die inperkingsperiode was ons Tuistes en stomadienste steeds oop as deel van essensiële dienste met beskermingsmaatreëls in plek, terwyl publieke hospitale ook oop was en pasiënte ontvang het. KANSA Sorgtuistes sien om na pasiënte wat kankerbehandeling ontvang wat betref akkommodasie, vervoer en etes. KANSA se TLC Tuistes vir kinders en hul families wat deur kanker geaffekteer word was ook werkend. Boonop bied ons ondersteuning via ons WhatsApp-lyn aan. Dit help met kanker-opvoeding, navrae en ondersteuning in isiXhosa, isiZulu, Sesotho en siSwati (071 867 3580). Daar’s ook ondersteuning via telefoon en aanlyn platforms,” voeg Scholtz by.

KANSA bied ook vertroulike, professionele, kankerverwante teleberading aan kankerpasiënte, versorgers en hul families asook ouers of voogde van kinders wat met kanker saamleef. Berading is in sewe tale beskikbaar (Afrikaans, Engels, isiXhosa, isiZulu, siSwati, Sesotho en Setswana) en is gratis.

Volwassenes betaal R50 en kinders onder 12 jaar betaal R25 om hulle hare spuit of te skeer, of om ’n poniestert te skenk om ’n pruik vir ’n kankerpasiënt te maak. Digitale selfieborde sal ook beskikbaar wees om bewusmaking te help skep en ons moedig die publiek aan om hulle foto’s op sosiale media te deel met die hutsmerke #CANSAShavathon en #CANSA90.

Om ’n geleentheid te hou, registreer asseblief en bestel Shavathon-produkte deur die e-winkel. Enigeen kan ’n geleentheid reël; dit is glad nie tot werksplekke, organisasies of skole beperk nie.

Scholtz sluit af, “Aanlyn fondsinsamelingsaktiviste kan op die Shavathon webtuiste aansluit en familie, vriende en kollegas uitdaag om hul fondsinsamelingspogings te ondersteun. Samel R900 in of selfs R9 000. Omdat baie werknemers steeds virtueel werk, nooi ons maatskappye uit om aan die aanlyn fondsinsamelingsuitdaging deel te neem.”


Do you have a question?

Ask CANSA

Book a counselling session

CANSA Tele Counselling