Show your support for a cancer survivor

CANSA Shavathon: 20 Jaar van Solidariteit met Kankeroorwinnaars

English Media Release

6 Februarie 2023 – Dis weereens tyd om te skeer, spuit en skenk by die KANSA se 20ste jaarlikse Shavathon fondsinsamelingsgeleentheid wat by winkelsentrums regoor Suid-Afrika plaasvind op Saterdag, 25 Februarie 2023, met sekere sentrums wat ook op Sondag, 26 Februarie 2023, geleenthede bied. Werksplekke, besighede, klubs, organisasies en skole het ‘n hele maand, van 27 Februarie tot 31 Maart 2023, die kans om Shavathon geleenthede te hou. Nou in sy 20ste bestaansjaar, is Shavathon een van die hoogtepunte op die KANSA-kalender en bring families, vriende en kollegas in solidariteit met kankeroorwinnaars bymekaar. Om jou hare te verloor is ’n algemene newe-effek van kankerbehandeling en deelnemers wys hulle ondersteuning deur geld te skenk of hul hare te laat skeer of spuit.

#CANSAShavathon #CANSACares

Elize Joubert, KANSA se hoof uitvoerende beampte sê, “Ons is opgewonde om na al die jare steeds Shavathon te doen, en selfs meer opgewonde oor die voortdurende entoesiasme waarmee Suid-Afrikaners dit ondersteun. Die wonderlike bystand wat ons van die publiek, maatskappye, klubs en skole ontvang wat namens ’n geliefde tans op hul reis met kanker deelneem, of vir die wie aan kanker beswyk het, maak dit moontlik om vanjaar die 20ste herdenking van hierdie fondsinsamelingsgeleentheid te vier. Ons nooi weereens elkeen uit en vra, ‘Wat sal jy vir ’n kankeroorwinnaar doen?’ en vra dat mense by ons aansluit om ’n kankeroorwinnaar, pasiënt, kryger of floreerder te ondersteun. En as jy oor die jare aan Shavathon deelgeneem het, deel asseblief jou stories, oomblikke, herinneringe en foto’s en vertel ons waarom hierdie geleentheid so spesiaal is. Stories kan hier ingedien word: https://shavathon.org.za/share-your-story/.”

Om jou hare te laat skeer of in verskeie kleure te laat spuit vra ons ’n donasie van slegs R50 vir volwassenes en R25 vir kinders onder 12 jaar. Alle fondse wat ingesamel word gaan direk vir KANSA se opvoedingsinisiatiewe en siftingstoetse en ook om ’n sorg- en ondersteuningsdiens aan kankerpasiënte en geliefdes te lewer. Stensils is beskikbaar om prettige ontwerpe te skep wanneer hare gespuit word en hare kan ook geskenk word om ’n pruik vir kankeroorwinnaars te maak. Die spuitmiddel is veilig om te gebruik, omdat dit van ’n  plantaardige kleurstof gemaak is, en kom uit wanneer hare gewas word. ’n Beperkte oplaag van ere-sertifikate sal gegee word aan diegene wat hare van 25cm of langer skenk en ’n beperkte oplaag KANSA-Headwear is teen R55 beskikbaar (terwyl voorraad hou).

Vele beroemde persoonlikhede was oor die afgelope twee dekades by Shavathon betrokke en het hul tyd, talente en ondersteuning gegee: dit sluit in kankeroorwinnaar Mark Pilgrim, Lillian Dube, Mi Casa, Freshly Ground, The Parlotones, Daniel Baron, Marc Lottering, Danny K, Toya Delazy, Gert-Johan Coetzee, Natalie Du Toit en vele meer. Wyle Jeremy Mansfield het ook Suid-Afrikaners aangemoedig om Shavathon te ondersteun. Vanjaar voeg Rozanne McKenzie, ’n vriend van KANSA, aanbieder, seremoniemeester en mede-aanbieder van Jacaranda FM se ‘The Drive Show with Rob and Roz’, ook haar stem by die Shavathon-opwinding en en gewilde musikant Daniel Baron sy ondersteuning bied met die lied ‘A Lions Heart’ wat geskryf is vir sy kleinnefie wie oorlede is aan kanker op ouderdom 14.  Hy het hom geïnspireer om die lied te skryf oor sy liefde vir die lewe.

Die eerste Shavathon het by ‘Crazy Zebra’ in Gqeberha in 2003 plaasgevind. Die inisiatief is deur ’n plaaslike motorfietsryersgroep begin om ’n lid wat deur kanker geaffekteer was te ondersteun, en dit is vandag steeds die fokus van Shavathon.

Oor die jare het Shavathon een van die gunsteling geleenthede in Suid-Afrika geword. Dit behels die ware gees van ‘Ubuntu’ deur Suid-Afrikaners van alle sektore van die samelewing byeen te bring om saam te staan in die stryd teen kanker en om eer te bring aan diegene wat daardeur geaffekteer word.

Wat sal jy vir ’n kankeroorwinnaar doen?

Behalwe om Shavathon-geleenthede in winkelsentrums by te woon, kan enigeen ook ’n Shavathon-geleentheid hou; dit sluit in werksplekke, besighede, klubs, organisasies en skole. KANSA bied die kans om geleenthede vir ’n hele maand lank te hou, van 27 Februarie tot 31 Maart 2023. Om ’n geleentheid as ’n individu of werksplek te hou registreer en bestel asseblief Shavathon-produkte deur die KANSA aanlyn winkel.

Joubert voeg by, “Ons daag werksplekke en organisasies uit om deel te neem aan hierdie spesiale geleentheid en om pret te hê daarmee! Waarom nie kyk watter afdeling of tak die meeste fondse met hulle Shavathon kan insamel nie? Of kyk wie die meeste haarskenkings bymekaar kan maak. Spanne kan ook kompeteer deur te sien wie die meeste geld aanlyn kan insamel deur ’n aanlyn fondsinsamelingsblad op ons Shavathon geleentheidsbladsy of op GivenGain te begin. Die korporatiewe span wat die meeste geld insamel sal ’n prys wen. En as jy van die huis af werk, kan jy steeds deelneem deur ’n ‘borgstaanfooi’ aanlyn te betaal.”

Aanlyn kampioene

KANSA moedig ook deelnemers aan om ’n aanlyn fondsinsamelingsblad te begin voordat hulle die Shavathon geleentheid hou en om hulle kontakte uit te nooi om die aksie te ondersteun wat hulle op die dag namens kankeroorwinnaars sal neem, hetsy hulle besluit om te skeer, spuit, of op die aanlyn fondsinsamelingsblad ’n bydrae te maak.

Deelnemers kan hulle aanlyn fondsinsamelingspogings op hul sosiale media-bladsye deel deur die hutsmerk #CANSAShavathon te gebruik tydens die weke voor deelname. Top fondsinsamelaars kan lekker pryse wen. Verder is die aanlyn ‘borgstaanfooi’-opsie ook beskikbaar vir diegene wie betrokke wil raak maar nie op die dag ’n geleentheid kan bywoon nie.

Om meer oor Shavathon uit te vind, sien die Shavathon FAQs en om ’n bymekaarkomplek te vind, sien die deelnemende winkelsentrums aanlyn (geleenthede sal weekliks hier gelys word soos ons nader aan Shavathon beweeg.)

20 maniere om ’n verskil te maak

Alhoewel Shavathon een keer per jaar plaasvind, is KANSA se dienste deurlopend. As ’n niewinsgewende organisasie is KANSA afhanklik van die goedgesindheid en vrygewigheid van skenkers en borge om dienslewering regoor Suid-Afrika voort te sit. So kan jy by die geveg teen kanker aansluit deur middel van jou Shavathon-donasie en meer:

  1. Gee jou poniestert vlerke deur R20 saam met jou haarskenking te skenk as ’n bydrae tot die koerierkoste om dit na ons pruikmaker te stuur.
  2. Skenk ’n nuwe of tweedehandse pruik aan KANSA vir pasiënte wat dit nodig het.
  3. Maak ’n bydrae tot die druk van Kankersorg-hanteringsgidse, die KANSA Pyngids en die KANSA gids vir kinders met pyn.
  4. Maak ’n bydrae vir die druk van opvoedkundige materiale (soos plakkate en pamflette) vir gebruik in onkologie-eenhede.
  5. Skenk kruideniersware aan KANSA Sorgsentrums en KANSA TLC-fasiliteite
  6. Skenk KANSA Sorgpakkies aan pasiënte.
  7. Skenk brandstof vir KANSA Sorgtuiste-voertuie.
  8. Deel boodskappe van KANSA se sosiale media-bladsye sodat ons meer mense kan bereik met belangrike gesondheids-, voorspraak- en sorg en ondersteuning-boodskappe.
  9. Skenk verbruikbare produkte wat vir siftingstoetse by KANSA Sorgsentrums gebruik word soos spekulums, weggooibare handskoene en linnedoekies.
  10. Maak ’n bydrae tot verbruikbare produkte soos naalde, toetsstrokies vir glukose en vingerprikke, direk aan KANSA Sorgsentrums.
  11. Koop ’n Compassion Hat vir ’n kankerpasiënt.
  12. Koop ’n geskenkkoepon as bydrae tot ’n pasiënt se mastektomie-bra of prostesis of borg Knitted Knockers (handgebreide bors-prostesis) vir ander om te brei.
  13. Skenk R10 000 as bydrae vir ’n mobiele kliniek om landelike gebiede te besoek om 50 prostaatspesifieke antigeen (PSA)-toetse te doen, asook leefstyl risikoberamings en om bewusmaking rondom kanker te skep (dit sluit ’n bestuurder, verpleegster en vrywilligers in).
  14. Skenk R10 000 as bydrae vir ’n mobiele kliniek om landelike gebiede te besoek om 50 papsmere te doen, asook leefstyl risikoberamings en om bewusmaking rondom kanker te skep (dit sluit ’n bestuurder, verpleegster en vrywilligers in).
  15. Is jy ’n kopieskrywer of vertaler? Skryf of vertaal KANSA-materiale in ander tale as ’n vrywilliger sodat KANSA meer mense kan bereik.
  16. Skenk R7 500 as bydrae vir 100 fekale okkulte bloed (FOB)-tuistoetse.
  17. Skenk R3 750 as bydrae vir 50 fekale okkulte bloed (FOB)-tuistoetse.
  18. Samel geld in op KANSA se aanlyn fondsinsamelingsblad
  19. Word ’n KANSA-vrywilliger.
  20. Hou ’n ontspanningsessie met pasiënte by KANSA Sorgtuistes, byvoorbeeld kunsvlyt, verf of breiwerk.

(Vir media inligting, kontak asseblief vir Melissa Zaayman by KANSA per e-pos mzaayman@cansa.org.za / 084 989 6890 of Lucy Balona LBalona@cansa.org.za, of skakel 0800 22 66 22.)

  • Meer oor KANSA
    Meer oor KANSA

    KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk. Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom. Ons bied ‘n gratis Tele Beradingsdiens in sewe tale aan. Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 8 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

    Navrae KANSA

     0800 22 6622 Tolvry
     072 197 9305 Engels en Afrikaans
     071 867 3530 Xhosa, Zulu, Sotho en Siswati
      KANSA Versorgsentrums

     
    Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms:

Do you have a question?

Ask CANSA

Book a counselling session

CANSA Tele Counselling